USAAA gerat as rolspeler in Wes-Kaap
“Die regering se jongste begroting dui nie daarop dat transformasie in die landbou en hulp aan opkomende boere hoog op hul (die regering se) prioriteitslys is nie.” So sê Mnr Trevor Abrahams, voorsitter van USAAA (United South African Agricultural Assotiation). “Ten spyte van heelwat beloftes word te min gedoen om die nuwe boere op grondvlak te ondersteun.”
Abrahams het tydens USAAA se onlangse bestuursvergadering in die Paarl gesê dat USAAA homself nou gevestig het as die tuiste vir opkomende landbou in die Wes-Kaap. “USAAA word ook deur die regering en owerhede as die amptelike spreekbuis vir opkomende landbou in die Wes Kaap erken.
“Groot getalle ontnugterde lede vanuit ander soortgelyke organisasies is besig om nou by USAAA aan te sluit, veral vanweë beweerde gevalle van korrupsie en finansiële wanbestuur by sommige ander organisasies”. Abrahams sê USAAA volg ‘n beleid van deursigtigheid en diplomasie en is juis daarom besig om soveel veld en ondersteuning te wen, met verskeie korporatiewe organisasies wat belangstel om in USAAA se projekte te belê.
Die bestuur van USAAA het homself so georganiseer dat dit ooreenstem met die verskeie kommoditeitsorganisasies, en verskeie aksies en projekte binne die verskillende bedrywe is al van stapel gestuur, met heelwat meer wat beplan word. USAAA nooi alle bedryfsorganisasies om hulle te skakel en vas te stel op watter gebiede saamgewerk kan word.
Belangstellendes kan gerus vir Mnr Trevor Abrahams kontak by 084 525 5037 of trevorsfarm@telkomsa.net, of die USAAA kantore by 021 863 0397 of usaaa@agrimega.co.za


















