VinPro: Werkwinkel en Oesverslag Terugvoer
Deur Doug Momberg
VinPro het, 5 Mei, 'n inligtingsdag by Bien Donné Agri Cape Week aangebied wat klem gelê het op die ekspo se algehele tema van “Agri Vooruitskouing 2020.” VinPro is 'n diensorganisasie vir ongeveer 4 500 Suid-Afrikaanse primêre wynprodusente en verteenwoordig hulle in gesprekke met die Regering sowel as op alle relevante wynbedryf forums. VinPro is gestig in 2003 om professionele en behoefte-gedrewe konsultasiedienste in wingerdboukunde, wynkunde, grondkunde, landbou-ekonomie en algemene bestuur te verskaf.
Gegewe hulle diverse mandaat was 'n verskeidenheid onderwerpe behandel, onder andere, inligting oor; Kelder Tendense in Argentinië en Chile, Nuutste Wynbou en Druiwe Variëteite van Australië, Geleenthede en Tendense in Plaaslike Marke, en nog vele meer was weergegee. Talle gassprekers en deskundiges was teenwoordig insluitend; Prof Alaine Deloire van Stellenbosch Universiteit, Johan Wiese van die Voor-Groenberg Kwekery, Marco Ventrella van KWV, Linley Schultz van Alvi's Drift en Marius Kotze van Leopard's Leap Wines.
Die program het belangrike inligting verskaf en was bygewoon deur talle produsente. Klem was veral geplaas op die bepaling van oesdatums gegewe spesifieke kultivars asook die belangrikheid van verskeie opleidingmetodes vir wingerde en hoe dit die blaredak en dus ook die mikroklimaat beïnvloed. Produsente was in kennis gestel van huidige mark tendense en die noodsaaklikheid van 'n algehele verstaan van hoe die waardeketting vir of teen produsente kan werk. Gegewe die rampsalige stand van die Australiese wynbedryf was daar betekenisvolle lesse om te leer. Die werkwinkel het produsente blootgestel aan belangrike inligting wat sekerlik deurgevoer sal word en die gehalte van Suid-Afrikaanse wyn tot hoogtes stoot.
Die huidige stand van die Suid-Afrikaanse 2011 wingerdoesseisoen kom tans na vore deur middel van die SA Wynbedryf Inligting en Stelsels (SAWIS) en VinPro. Die uitdagings wat produsente in die gesig gestaar het gedurende die afgelope seisoen het toe nie 'n daling in oesvlakke veroorsaak nie. Gekenmerk deur klimaatskommelinge vanaf langdurige droogtes en hittegolwe in die somer tot ysigekoue tydens blomtyd, en 'n winderige Desember sowel as grootskaalse vloede, het beslis nie bygedra tot die produsente se gemak nie. Ondanks al die uitdagings en terugslae is die bedryf steeds in sy skik met die gehalte van die wyne en oesgrootes. Die Suid-Afrikaanse wynbedryf is danksy die diversiteit van onderskeie verbouingsareas in staat om relatiewe groot fluktuasies in algehele oesgrootte en -gehalte te buffer. Die jongste skatting, van einde April, dui aan dat die 2011-wyndruifoes op sowat 1 279 017 ton staan, 1.4% hoër as die 2010-oes. Met die uitsondering van Oranjerivier, Breedekloof en Worcester, word dit verwag dat al nege verbouingsdistrikte groter oeste sal hê.
Na verwagting sal die 2011-oes - sap en konsentraat vir nie-alkoholiese doeleindes, wyn vir brandewyn en distilleerwyn ingesluit - 992.5 miljoen liter beloop, bereken teen ʼn gemiddelde verhaling van 776 liter per ton druiwe. Dit is 1% hoër as die wynoes in 2010.
Die feit dat wingerde omtrent 7 - 14 dae vroeër as gewoonlik gebot het, .het gelukkig nie die algehele gehalte te erg beïnvloed nie. Druifontledings het aansienlik gewissel met sure wat by tye vinnig gedaal het en suikervlakke wat weer vinnig toegeneem het. Die kleur van die rooi kultivars is egter goed en 'groen' geure was vanjaar reeds vroeg afwesig. Daar positief beraam, deur produsente, wingerdkundiges en wynmakers, dat die aanstaande wyne aan die verbruiker se behoeftes en standaarde sal voldoen. Hoewel die geure by wit kultivars in sommige gevalle nie aan verwagtinge voldoen het nie, word die witwyne in die geheel steeds as mooi en gebalanseerd beskryf. Die kleiner korrelgroottes by rooi druiwe het weer aanleiding gegee tot intense kleur, sagte tannien en goeie struktuur. Vir verdere inligting oor die wingerdoesseisoen, sien ook www.vinpro.co.za en www.sawis.co.za of kontak Francois Viljoen vir navrae by Tel: (021) 807 3303of E-pos: viljoenf@vinpro.co.za



















