Voel Tuis - Damesbederf by Agri Megaweek
Nuusvrystelling uitgereik deur die Agri Mega Kantoor in Bredasdorp op 27 Augustus 2009.Navrae: Leensie Streicher
Voel Tuis - Damesbederf by Agri Megaweek
Marilyn Monroe het per geleentheid gesê: "Ek gee nie om om in 'n manswêreld te bly nie, solank ek 'n vrou daarin kan wees". Hoewel die landbousektor dikwels beskou word as 'n "manswêreld", is daar geen rede hoekom dames nie ook kan tuis voel daarin nie. Die 2009 Agri Megaweek se damesprogram draai vanjaar om die tema "Voel tuis" en verskeie aktiwiteite word beplan om ook aan die dames 'n waardetoevoegende ervaring by die Agri Megaweek te bied. Dames kan hulself kom tuis maak by die Agri Megaweek met spesiale programme vanaf die 15de tot 17de September, wat elk beloof om 'n geleentheid van bederf te wees.
Op Dinsdag 15 September word 'n middagtee by die Overberg Agri Opleidingsaal gehou met Schalk Burger, 'n onafhanklike finansiële konsultant, as hoofspreker. Kaartjies vir hierdie geleentheid beloop R50-00. Die tema vir hierdie geleentheid is "Voel tuis in jou finansiële wêreld - Is jou man se bakkie meer werd as jy?"
Op Woensdag 16 September word 'n spesiale program in samewerking met die RPO (Rooivleisprodusente Organisasie) aangebied met die tema "Voel tuis in jou vleiskombuis". Mnr. Freddie Viviers van Northlink College is een van die sprekers by hierdie geleentheid en dames kan gerus kom kyk hoe die kenner 'n karkas verwerk. Kaartjies vir hierdie geleentheid beloop ook R50-00.
Om "tuis" te voel beteken ook dat jy in jou omgewing gemaklik sal wees of, as mens die Engelse woord kan gebruik, "contentment" sal ervaar: Om tevrede te wees met dit wat jy het én dit optimaal te gebruik. Hierdie "tuiskoms" is dan ook die sentrale tema van 'n heerlike laat-ontbyt wat vir Donderdag die 17de September beplan word. Die oggend word in samewerking met die Tuis-tydskrif aangebied.
By hierdie bederf-oggend wat by die Bredasdorp Gemeenskapsaal gaan plaasvind, gaan Nina Brown gesels oor "die gesig as die beeld na die wêreld"en hoe jy kan tuis voel met jou eie voorkoms. Gerhard van Deventer, eienaar van Incanda leermeubels, gaan ook met dames deel hoe jy kan tuis voel in jou huis en dit wat jy het, tot die beste kan benut. Tuis-tydskrif gaan die nuutste 2009/2010 dekortendense met die dames deel. Die oggend sal dus 'n heerlike geleentheid wees met genoeg pitkos vir die siel. Die kaartjies vir die ontbyt is R120-00 per persoon en sluit 'n heerlike ontbyt in.
Kaartjies vir hierdie spog damesgeleenthede is beskikbaar by die Agri Mega-kantoor in Bredasdorp of skakel vir Elma Brand by Mega Events vir meer inligting en besprekings, by tel 021 863 0397, faks 086 689 3520 of e-pos events@agrimega.co.za. Vir meer inligting rakende die Agri Megaweek, besoek gerus die webtuiste by www.agrimega.co.za.


















