Wes-Kaapse Boeremusiek weer by Agri Megaweek in aksie
Nuusvrystelling uitgereik deur die Agri Mega Kantoor in Bredasdorp op 2 Julie 2009.
Navrae: Leensie Streicher
Wes-Kaapse Boeremusiek weer by Agri Megaweek in aksie
Die Wes-Kaap Boeremusiek kompetisie, geborg deur Santam Landbou, sal vanjaar weer tydens die Agri Megaweek gehou word. Die kompetisie gaan op 18 September 2009 plaasvind by die Bredasdorp Gemeenskapsaal. Uitdunrondes sal die middag vanaf 12:00 tot 16:00 plaasvind waar deelnemende orkeste in 2 kategorie kan deelneem: Tradisionele en Moderne boeremusiek. Toeskouers is welkom om die uitdunne by te woon, waar etes en ‘n kontantkroeg ook beskikbaar sal wees.
Vrydagaand sal die kategoriewenners en naaswenners optree tydens ‘n heerlike aansitete en dans. Kaartjies vir hierdie geleentheid kan vooraf bespreek word. Die verrigtinge sal om 18:00 vir 18:30 afskop en behoort vir musiek uit die boonste rakke te sorg. Volgens mnr Louis Hurter van die Boeremusiekgilde in die Wes-Kaap, wat die kompetisie aanbied, is hulle baie opgewonde oor die belangstelling in die kompetisie. “Verlede jaar was die inskrywings en bywoning bo verwagting en het ons ‘n vol saal mense gehad,” het hy gesê. “Met die uitdunrondes wat vooraf gehou word, kan boeremusiekliefhebbers ‘n hele dag van vermaak geniet.”
Volgens Hurter bestaan die Boeremusiekgilde uit twee streke, nl. die Noordstreek en Suidstreek met ’n streekvoorsitter en bestuur vir elke streek. Beide streke doen verslag aan die Hoofkantoor. Die streke word geskei deur die Oranjerivier. Elke streek het weer sy onderskeie takke. Die suidstreek, waarvan Hurter die voorsitter is, bestaan uit takke in Kaapstad, Boland, Suid-Kaap (Outeniqua) en Port Elizabeth met hul onderskeie besture. Deelnemers vir dié kompetisie kom hoofsaaklik ut die Kaapstadtak se geledere.
Navrae en kaartjiebesprekings kan gedoen word by Elma Brand van Mega Events by 021 863 0397 of events@agrimega.co.za; Kaartjies beloop R100-00 per persoon (aansitete ingesluit).


Foto: Verlede jaar se Wes-Kaap Mega Boeremusiek kompetisie het vir musiek en vermaak uit die boonste rakke gesorg. Fotograaf: Thinus Maritz, Agri Promo.


















